Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS – SONDAG 18 April 2010

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met ’n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZSOJPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

Stil sleutel
Dit is met diep leedwese dat die afsterwe van John Andrew Friend, ZS6FJ, op Vrydag 9 April 2010 in die ouderdom van 54 jaar aangekondig word. Innige meegevoel word betuig met sy familie en vriende.

(POUSE)

In die nuus vandag:

VANDAG IS WęRELD-AMATEURRADIODAG!

SA AMSAT KONDIG NUWE CUBESAT AAN

HET U AL BESPREEK VIR SARL SE NASIONALE KONVENSIE?

RADIOAMATEUR VAN DIE JAAR-TOEKENNINGS

RADIOTEGNOLOGIE IN AKSIE-SIMPOSIUMS


U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede en ander belangrike en interessante nuusitems.


VIER AMATEURRADIODAG

Vandag word Węreld-amateurradiodag gevier met die tema “Amateur Radio: kombineer kommunikasie-ervaring met moderne tegnieke”.

SA AMSAT KONDIG NUWE CUBESAT AAN

SA AMSAT het tydens die Ruimtesimposium by die Universiteit van KwaZulu-Natal aangekondig dat hy sy eie CubeSat-satelliet gaan bou. Radioamateurs, studente en leerders gaan by hierdie projek betrek word. Die voorgestelde loonvrag sal onder andere ’n FM-antwoordsender met ’n 30 kHz-bandwydte insluit, asook ’n telemetriese baken en wetenskaplike projekte. Die projek neem ’n aanvang met ’n uitnodiging aan radioamateurs om voorstelle te doen voordat die finale loonvrag bepaal word, waarna projekspanne saamgestel sal word. As u belangstel om deel te neem aan van hierdie aktiwiteite, word u genooi om u kontakbesonderhede en vaardigheidsvlak te e-pos aan saamsat@intekom.co.za.

HET U AL BESPREEK VIR DIE SARL SE NASIONALE KONVENSIE?

Registrasie vir al die aktiwiteite van die SARL se Nasionale Konvensie wat aanstaande naweek in Port Elizabeth gehou word, sluit op Dinsdag 20 April. Laat besprekings kan nie na Dinsdag aanvaar word nie, aangesien finale reëlings getref moet word. Registrasie om die Algemene Jaarvergadering by te woon en om nominasies in te dien, kan egter nog gedoen word by die lokaal voor die vergadering ’n aanvang neem.

SARL se kantoor sal gesluit wees op Vrydag 23 April en geen e-posse of telefoonoproepe sal beantwoord word nie. Stuur asseblief faks- of e-posnominasies in teen Woensdag 21 April of handig dit by die Algemene Jaarvergadering-lokaal in.

Besprekings vir die PIC-kursus sluit ook Dinsdag. Maak asseblief seker dat u die korrekte besprekingsvorm gebruik. Dit is die vorm waarop u keuse van 2 gratis rekenaarprojekborde kan uitoefen. Geen PIC-kursusbespreking sal na Dinsdag gemaak kan word nie.

Vir inligting, besprekingsvorms en lokaalbesonderhede, besoek www.sarl.org.za.


SLUITINGSDATUM VIR TOEKENNINGS OM DRAAI

Die SA Amateurradio-ontwikkelingstrust gee jaarliks erkenning aan ’n radioamateur of groep radioamateurs vir verskillende prestasies. Die toekennings word geborg deur Nokia Siemens Networks (NSN) en die sluitingsdatum vir nominasies is 30 April. Daar is drie toekennings:

GARTH MILNE TEGNIESE VERNUWINGSTOEKENNING

Hierdie toekenning word gemaak vir die ondersteuning, ontwikkeling en aanwending van tegniese vernuwing in amateurradio in Suid-Afrika. Die ontvanger is iemand wat die gebruik van tegnologie in amateurradio op klubvlak, nasionaal, by skole of tersięre opvoedkundige instellings bevorder het.

RADIOAMATEUR VAN DIE JAAR-TOEKENNING

Hierdie toekenning word nie gemaak vir persoonlike prestasies soos DXCC en ander bewerkingstoekennings of kompetisies nie, maar wel vir die ondersteuning en ontwikkeling van die amateurradiodiens in Suid-Afrika.

AMATEURRADIO-GEMEENSKAPSDIENSTOEKENNING

Erkenning word verleen aan ’n radioamateur of groep radioamateurs vir diens aan die gemeenskap. Hierdie diens kan wees hulp aan ’n gestremde radioamateur, kommunikasie-ondersteuning gedurende sportbyeenkomste of ’n rampsituasie soos ’n padongeluk of natuurrampe soos vloede, veldbrande of aardbewings.

’n Individu of ’n groep, soos byvoorbeeld ’n radioklub of vereniging, kan genomineer word.

Verdere inligting asook die nominasievorm is beskikbaar by www.amateurradio.org.za.

RADIOTEGNOLOGIE IN AKSIE-SIMPOSIUMS

Die datums vir die 2010 Radiotegnologie in Aksie-simposiums is nou gefinaliseer. Dagboek hulle gerus, want dit is ’n SARL-geleentheid wat nie misgeloop behoort te word nie. Bykomende inligting sal beskikbaar gestel word tydens die SARL se Nasionale Konvensie en daarna ook op die webwerf.

’n Nuwe kenmerk van hierdie jaar se RTA is dat drie boustelle beskikbaar gestel gaan word. Alhoewel hierdie boustelle vooraf bestel en betaal kan word, sal dit slegs by die RTA-lokale beskikbaar wees. Geen boustelle sal voor of na afloop van die RTA beskikbaar wees nie. Met ander woorde, om ’n boustel aan te skaf, moet die RTA bygewoon word.Die boustelle is:

• DSSS-boustel volledig met gemeenskaplike 100 mW-kabels vir 40 m.

• TDR 1 GHz-proefossiloskoop wat deur die USB-poort van ’n rekenaar of skootrekenaar loop.

• DSP-boustel – vir digitale seinverwerking.

Volledige inligting en bestellingsvorms sal beskikbaar wees op die SARL-webwerf na afloop van die SARL se Nasionale Konvensie.

Die RTA-datums vir u dagboek is as volg:
:
Durban: 29 Mei 2010
Kaapstad: 24 Julie 2010
Port Elizabeth: 21 Augustus 2010
Gauteng: 18 September 2010

Bly ingeskakel vir verdere inligting.

KOMPETISIENUUS

Die Herfs QRP-naelloop vind vandag plaas van 12:00 tot 14:00 UTC.
Neem kennis dat items 5, 7 en 9 van die reëls soos vantevore aangekondig, verander het.

1. Doel
Om QRP-kontakte tussen radioamateurs in die lande in suidelike Afrika aan te moedig. (Algemene Reëls par. 1b.)

2. Datum en tyd
Vandag, Węreld-amateurradiodag, tussen 12:00 en 14:00 UTC (14:00 en
16:00 SAT).

3. Kategorieë en krag
Draagbare of basisstasie
CW of foon of gemeng.
Krag: 100 mW, 1 W of 5 W.

4. Uitruiling
RS(T) asook jaartal van lisensie-uitreiking (bv. 59 89).
.
5. Frekwensie en modusse
40 m-band (voorkeur-kompetisiesegmente)
SSB en CW is die toelaatbare modusse.
’n Stasie mag slegs een keer op CW en een keer per foon per band gewerk word.
Kruis-band- of kruis-modusbewerkings word nie toegelaat nie.

6. Antennas
Slegs draadantennas mag gebruik word.

7. Puntetoekenning
Elke kontak verdien 2 punte.
Elke voorvoegsel gewerk verdien 2 punte.
Kragvermenigvulder: 1 vir 5 W; 5 vir 1 W; 10 vir 100 mW.

Telling = [(Aantal QSO's x 2) x (Aantal voorvoegsels x 2) x (kragvermenigvulder)]

8. Logstate
Logstate moet nie later as 3 Mei 2010 ingedien word nie en kan per e-pos gestuur word aan die Wes-Randse Amateurradioklub, Posbus 5344, Weltevredenpark, 1725, of per e-pos aan glevey@gmail.com.

9. Uitslae en toekennings
Alle logstate sal as een groep geëvalueer word, ongeag die stasie se kategorie, modus of krag gebruik. Die uitslae sal binne een week na die sluitingsdatum beskikbaar gestel word. Sertifikate sal toegeken word aan die wenners wie eerste, tweede of derde plekke behaal.

HAMNET WES-KAAP SE WEEKLIKSE BULLETIN

Daar is besluit om die uitsendingstyd van die Wes-Kaapse Hamnet-bulletin op Woensdagaande te vervroeg na 19:30, en nie meer 20:30 soos gedurende die somermaande nie. Die besluit is geneem omdat die 80 m-herleiding op 3 760 MHz vergaan nog voor die bulletin voltooi is. Die herleiding word deur ZS1DDK behartig op 3 760 MHz, op 70 2625 MHz in die 4 m-band deur ZS1BSD, en op Echolink, via ZS1TX-R op die Suid-Afrikaanse lys.
U kan ook toegang verkry tot die Echolink-nodusnommer 4043 deur gebruik te maak van DTMF-tone. Ons sien daarna uit om van u te hoor.


MEI-RAE

Die sluitingsdatum vir inskrywings vir die Mei 2010-radioamateureksamen is Vrydag 23 April 2010 om 12:00 SAT. Neem asseblief kennis dat geen laat inskrywings aanvaar sal word nie.

Enige navrae kan gerig word aan Mariska by die SARL-kantoor. Besoek asseblief die SARL se tuisblad vir kontakbesonderhede en die aansoekvorm.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak verder verminder het. Sonvlek 1 062 het weggekwyn en daar is tans geen sonvlekke sigbaar nie. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling vir die week gaan minder as 10 wees.

15 m is die beste keuses vir DX gevolg deur 17 en 20 m. Gedurende die middae gaan die toestande na Indië goed wees. Laatmiddae and saans gaan toestande na Europa goed wees. Kontakte met Australië gaan in die oggende om ongeveer 8-uur vir ’n kort rukkie moontlik wees. Kontakte met die VSA gaan uitdagend wees. Smiddags en vroegaande gaan toestande na Brasilië op 15 m goed wees.

Plaaslike toestande gaan bedags op 40 m goed wees. 80 m behoort vroegoggende en laatmiddae goeie resultate oor die korter afstande te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate lewer. 20 m is bedags baie bruikbaar en goeie kontakte kan oor die langer afstande gemaak word.

Saans is 80 m die beste keuse. Met die seisoensverandering is die geraasvlakke ook besig om te daal. 160 m behoort ook binnekort goeie kontakte op te lewer.

DAGBOEK VAN GEBEURE

Vandag – Węreld-amateurradiodag.
Vandag – Herfs QRP-naelloopkompetisie.
23 April – SARL-kantoor gesluit.
23 April – Inskrywings sluit vir Mei-RAE.
23-25 April – SARL- Nasionale Konvensie, Port Elizabeth.
24 April – Wes-Randse Amateurradioklub se snuffelmark.
7 Mei – Sluitingsdatum vir Fase 2 van Konstruksiekompetisie.
8 Mei – Tegnologiese Hoërskool John Vorster Amateurradioklub se snuffelmark.
29 Mei – RTA-simposium in Durban.
24 Julie – RTA-simposium in Kaapstad.
21 Augustus – RTA-simposium in Port Elizabeth.
31 Augustus – Sluitingsdatum vir indiening van voorstelle vir die 2011-kompetisiehandboek.
18 September – RTA-simposium in Gauteng.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars deur te stuur. Stuur dit indien moontlik in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International wat om 10:00 SAT op 145,750 in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook ’n potgooi-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op "ARMI" en volg die skakels. ’n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na ’n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Leon, ZS4V, saamgestel en deur Hester van der Walt geredigeer is.

Dankie dat u saamgeluister het.
/EX



Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003